1 Timóteo 3

1 Dit is 'n betroubare woord: as iemand na 'n opsienersamp verlang, begeer hy 'n voortreflike werk.

2 'n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig;

3 geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie;

4 een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou.

5 Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?

6 Hy moet nie 'n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie.

7 Maar hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestaanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie.