João 13

21 Toe Jesus dit gesê het, het Hy in sy gees ontsteld geword en getuig en gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai.

22 En die dissipels het na mekaar begin kyk, in twyfel omtrent die een van wie Hy dit sê.

23 En een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het aan tafel teen die bors van Jesus gelê.

24 Simon Petrus knik toe vir hom dat hy moet vra wie dit kon wees van wie Hy spreek.

25 En hy val op die bors van Jesus en sê vir Hom: Here, wie is dit?

26 Jesus antwoord: Dit is die een aan wie Ek die stukkie sal gee as Ek dit ingedoop het. En toe Hy die stukkie ingedoop het, gee Hy dit aan Judas Isk riot, die seun van Simon.

27 En nadat hy die stukkie geneem het, het die Satan in hom ingevaar. En Jesus sê vir hom: Wat jy doen, doen dit haastig.

28 Maar waarom Hy dit vir hom gesê het, het niemand van die wat aan tafel was, verstaan nie.

29 Want sommige het gedink, terwyl Judas die beurs gehad het, dat Jesus vir hom sê: Koop wat ons nodig het vir die fees; of dat hy iets aan die armes moes gee.

30 Toe hy dan die stukkie geneem het, het hy dadelik uitgegaan. En dit was nag.